Ek is ALTYD besig om te dink. Gedagtes en idees vloei in my brein in…en net so vinnig daaruit! Op enige gegewe stadium is ek besig om aan ‘n hele paar goed te dink.
Ek het vanoggend iets besef. My hele lewe gaan net oor werk, en om iets vir iemand anders te doen. Ek doen niks meer vir myself nie. Selfs ons besigheid, ek doen dit primer sodat Surika en my kinders eendag ok kan wees. Ek moet darem erken ek is mal daaroor om ‘n fotograaf te wees, maar dis altyd ander mense se fotos, nooit my idees of my fotos nie. Ek moet erken, Daniel Milnor se videos het my gehelp om by die besef uit te kom.
So ek het besluit ek moet ‘n persoonlike projek kry, iets waaraan ek kan werk vir myself. Ek hou van fotos neem, en ek hou van skryf (alhoewel ek bitter min by laasgenoemde uitkom) Ek gaan begin deur elke dag ‘n paar fotos op die blog te sit, en iets daaroor te skryf, nie vir iemand om te lees nie, nie om die volgende Dana Snyman te wees nie. Sommer maar net om bietjie tyd met myself deur te bring. (My Alone-time) (Surika gaan lag as sy die lees, ek sê altyd ek het nie alone time nodig nie)
Kyk na die volgende foto. Ek het dit op 31 Des 2018 geneem by Jacobsbaai aan die Weskus. 19:31 die aand. Ons was by Dirk en Marissa op vakansie. Hulle wou die oujaar uitgaan met ‘n partytjie en is na vriende toe. Ons wou dit rustig doen. Ons besluit toe ons gaan na Jacobsbaai toe ry en die sonsondergang daar afneem. Ons het ‘n ongelooflike uur of twee daar op die rotse deurgebring en ‘n paar baie mooi fotos geneem. Maar as ek na die fotos kyk sien ek nie meer die hele prentjie nie. Ek kan nie al my gevoelens meer onthou nie. En so gaan dit elke dag, dinge kom en dinge gaan, en mens vergeet van die belangrike dinge, die spesiale oomblikke. Dis nie altyd “life changing moments” nie, maar eintlik is dit, want dis die oomblikke wat ons as mense vorm en bou. Partykeer sonder dat ons dit besef. So van vandag af gaan ek ‘n notaboek saam my dra en dinge neerskryf om dit te onthou, en ek gaan fotos neem, en dit in die blog sit.
Want ek wil nie meer belangrike oomblikke en hoe ek gevoel het vergeet nie.