Desember 2020
Die einde van 2020. Amper.
Dit was nie jou gewone jaar nie. Ons het Surika se Ouma Margje verloor, en ook vir Tommy Westermann. En natuurlik het Covid-19 die wereld soos ons dit ken verander. Ons spaarrekekening sien heeltemal anders daarna uit as ‘n jaar gelede die tyd, maar dis nie die einde van die wereld nie.
Dis dus met ‘n gevoel van geluk en blydskap wat ons vir kersfees bymekaarkom by Skoonpa Piet en Skoonma Bonnie se huis in Krugersdorp. Ons familie, en Swaer Craig en Skoonsus Mariska en hulle kiddies Marc en Owen.
Timothy is bietjie senuweeagtig. Hy gaan sy buiging maak as kersvader. Dis Miya se tweede kersfees wat sy weet kersvader is net ‘n fabel. Maar sy gee darem voor terwille van Marc en Owen.
Dis ‘n heerlike familie aand van kuier en sommer net bymekaar wees.
Ons slaap die aand oor. Die volgende dag kuier ons rustig verder. Piet het ‘n nuwe platespeler en ons luister na plate en mense wat ons nog nooit van gehoor het nie. Die kinders swem en die vrouens maak kos. Dis ‘n tipiese rustige kersdag in Suid Afrika. Dit was baie spesiaal om dit saam met sulke spesiale mense deur te bring.
Ons gaan die middag terug huis toe. Surika en ek het ‘n troue op 28 September in Elliott in die Oos Kaap. Buyambo en Shoki se troue. Dis die 3de keer wat hulle probeer trou in 2020. Covid!
Ons moet nog pak en Cambino regkry vir die pad. Ons wil sommer rustig afry en erens oor slaap op pad af en terug. Ons voel ook dis veiliger om in ons eie karavaan te slaap as in ‘n B&B. Dis ook sommer die ideale geleentheid om Cambino bietjie te beproef, ons het hom nog nie so ver gesleep nie.
26 DESEMBER:
Ons ry die oggend so 07:00 by die huis weg. Eers volmaak met petrol.
Mufasa is volgepak met kamera gear.
Ons besluit om die eerste aand in Zastron oor te slaap. Dis so 627 km. Ons ry oor Bloemfontein. Cambino sleep soos ‘n droom.
Ons kom so 15:00 in Zastron aan. Ons eerste probleem is om die eienaars van die karavaanpark, Mountain View, in die hande te kry. Ons het nie bespreek nie, maar ek meen, hoe vol kan Zastron se karvaanpark wees?
Daar aangekom is die karavaanpark gesluit, en niemand in hom nie. Die telefoon nommer van die karavaanpark lui ook net. Na so 10 min voor die hek bel iemand ons terug.
Die eienaar kom daar aangejaag op sy scrambler. Vriendelik, ons mense. Die plek is goedkoop, baie mooi, en skoon. (R 250 vir die aand)
Surika en ek slaan Cambino op en gaan ry die middag bietjie deur die dorpie. Dis duidelik dat dit op ‘n stadium ‘n pragtige plek was. Nou is alles egter vervalle en die munisipaliteit, soos baie ander in SA, doen nie hulle werk nie. Tragies. Mens wonder partykeer wat gaan met ons klein dorpies gebeur.
Ons braai, drink ‘n paar biere en hou die pragtige sonsondergang dop. En toe gaan kruip ons in.
27 Desember
Vanoggend ry ons deur Elliot toe. Dis nog 355 km, maar ons wil dit nie vinnig ry nie wat die pad gaan ons deur van die mooiste passe in Suid Afrika vat.
Net eers gou petrol ingooi.
En hier begin ons probleme. Daar is GEEN petrol by enige petrolstasie in Zastron nie. Hulle weet ook nie wanneer gaan hulle weer kry nie. Die een petroljoggie bel en sê vir ons daar is by Sterkspruit petrol. Dis so 47 km van ons af. Ek kyk na my petrol naald. As ons 20 km maak is ons gelukkig. So ons kan nie eers by Sterkspruit uitkom nie.
Ek bel die een mens wat ek ken in Zastron, Gerhard, die einaar van die karavaanpark. Ek verduidelik ons probleem aan hom. Hy bied dadelik aan om vir ons petrol uit sy generator te tap. Ons haak vir Cambino voor sy huis af en skiet deur Sterkspruit toe. Ons stop by die eerste garage. Hulle petrol is op. Ek begin ‘n baie slegte voorgevoel te kry. Ons het die volgende dag ‘n troue 355 km van hier af. En ons het nie eers genoeg petrol om terug te ry Zastron toe nie. Wat nog te sê by die troue uit te kom. Ons ry na die volgende garage. Daar staan toue karre en wag vir petrol. Wel, dit beteken een ding. Hulle het petrol. Vir nou. Of hulle nog gaan hê as ons voor in die ry kom is ‘n ander vraag. Gelukkig het hulle toe genoeg vir ons ook. Ek was lanklaas so bly om ‘n Engen garage se petroljoggie te sien.Ons maak Mufasa en Gerhard se jerrykan vol en draai terug Zastron toe.
Ons haak Cambino en vat die pad.
Rouxville.
Stefanus.
By Aliwal Noord ry ons oor die magtige Oranje. Ons is nou in die pragtige Oos Kaap.
Lady Grey.
Net anderkant lady Grey op die R58 begin die werklike mooi gedeelte. Die majesteuse Witteberge is aan ons linkerkant en ons kronkel deur die Benjaminshoogte pas.2000m bo seespieël op sy hoogste punt. 25 km anderkant Lady Grey sien ons ‘n afdraai tussen die berge na links. Karnmelkspruit River Resort. Ons maak ‘n mental note om hier te kom kamp as ons terugkom van Elliot af. Daarna is ons deur die Kraai Rivier pas net voor Barkly East.
Anderkant Barkly East gaan ons deur die ongelooflike 10km lange Barkly pas. As dit in die winter erg sneeu maak hulle die pas toe. Ek kan sien hoekom. Ek wil nie by die hoogtes afgly nie.
Net aan die onderkant van die Barkly pas draai ons regs af op ‘n grondpad net voor jy oor die Tsomo rivier ry. Ons slaap die volgende twee aande oor by die Intaba Lodge. Hulle het kampgeriewe daar. Dis ‘n pragtige area. Ons sit die middag eers in die kroeg en drink ‘n bier. Dis net ons en die eienaar se dogter en haar kêrel wat in die kampterrein is. Hulle het lekker braaiplekker onder ‘n afdak maar ongelukkig het die eienaar se dogter en haar vriend basies onder die afdak opgeslaan. Ons voel ons gaan te in hulle gesig wees as ons daar braai en slaan maar ons klein stainless steel braaiertjie op. Daar is geen warm water nie en die plek is baie vuil. Vir die volgende twee dae gaan ons dus nie stort nie. Ek weet nie hoe skoon is die Intaba Lodge se chalets nie maar hulle kamparea is ver onder standaard. Ons het voor ons gery het by die bestuurder gaan kla en hy het vir ons ons drinks rekening (wat nie baie was nie) afgegee. Ons bruid het die kampgeriewe betaal so daardie geld het sy nooit teruggekry nie.
Die middag is ons deur Elliot toe om te gaan kyk na waar die troue gaan wees.
Ons troue op die 28 ste was pragtig. Een van ons beste troues van die jaar. Ons sluit die troue vir die aand af met Pres Ramaphosa wat ‘n lockdown aankondig vanaf 23:59 op die 28 ste.
29 Desember
Ons ry terug en besluit ons gaan definitief by Karnmelkspruit River Lodge kamp vir die aand. Ons is lekker moeg na die troue en het bietjie rus nodig. Die pad na die kampplek is pragtig verby. Die pad kronkel al met die berg langs langs die Karringmelkspruit. Interessant hoe die spelling van die spruit en die kampterrein verskil.
Ek het ongelukkig die video verloor voor ek dit op You Tube kon laai, maar ek het dit darem op my Instagram gelaai
Op die pad in kry ons die eienaar langs die pad. Hy sê ons moet net ‘n plekkie soek en kamp opslaan. Hy sal ons later sien. Hier is nie sprake van kampplekke nie. Alles is baie informeel. Jy slaan op waar jy wil.
Ons ontmoet ons bure. Oom Jan en sy vrou Tannie Ansa. Hy is ‘n skaapboer maar bly nou in Hermanus. Sy seun bestuur die plaas. Hy vertel ons ons moet Ivomec drink vir Covid. Hulle gee dit op die plaas vir die skape en hy sê hy drink dit elke dag. Dit werk skynbaar. Hy is ‘n vreeslike groot 4×4 entoesias nog sy hele lewe.
Aan die anderkant van ons kamp Louis Bothma en sy vrou en sy seun en skoonseun. Louis is ‘n ouditeur van Bloemfontein en hulle kom elke jaar hiernatoe om te kamp.Hy het ‘n paar massiewe solar panele voor sy karavaan. Sy vrou is permanent op suurstof en die solar is nodig om die masjien te laat hardloop wat die suurstof maak. Maar kamp gaan hulle kamp.
Ons stap na die rivier toe en ek gaan swem in die yskoue rivier water. Dit was nou lekker verfrissend. Daar is geen krag by Karnmelkspruit River resort nie. Jy moet dus seker maak jy het solar en batterye. Daar is egter gas by die skoon ablusie blokke en lekker warm water. Hierdie is ‘n ongelooflike mooi karavaan staanpleek wat BAIE goed beheer word. Ons besluit ons gaan definitief eendag terugkom hiernatoe en ‘n paar dae hier staan.
30 Desember:
Die volgende dag is ons vroeg op en ry terug huis toe.
Ons besluit om bietjie van die hoof paaie af te bly en ry deur Wepener, Hobhouse, Excelsior en sluit by Winburg weer by die N1 aan.
Dit was ‘n lekker paar dae. Hard gewerk en ‘n paar baie mooi plekke gesien.