So ‘n rukkie terug nooi Carina die hele kantoor uit om saam met Haar en Brittany te kuier by Brittany se pa-hulle se plek by Bonamanzi.
Die dag was nou gister gewees.
Ek moet erken ek was bietjie verras met die uitnodiging. Ons almal by die kantoor kom baie goed oor die weg, maar ons het nog nie saam gekuier vir ‘n hele dag en aand nie. Om die waarheid te sê ek dink nie eers ek het al vir Carina sonder make-up gesien nie. En nou gaan ons in ‘n klein plekkie saam wees vir 24 uur?
Die laaste week voor die groot dag was dit duidelik dat almal BAIE opgewonde is oor die groot dag. Ek het nog bietjie meer bekommerd geraak. Daar gaan gekuier word, gedrink word, en dan raak mense mos bietjie (baie) laf. Ek was nou nie lus vir kantoor moeilikheid nie.
Maar die laaste reëlings is getref, almal weet wat moet hulle bring en maak vir die dag en ek moet erken ek begin ook opgewonde te raak oor die dag.
Saterdag pak ons gou en koop die biltong vir Surika se biltong slaai by Hokaai Vleismark. Ons kry ook sommer ‘n paar Black labels, Flying Fish (Lemon) en J&B whisky vir die dag, en toe is ons op pad.
Lulu (die Jack Russell) sit baie opgewonde en hiper ventileer agter in die Cruiser. Sy bly altyd by die huis, maar vandag gaan sy saam, haar eerste uitslaap. Sy gaan selfs maatjies hê. Brittany se twee Worshondtjies. Jade en Annas. Ons sal maar sien hoe DIT gaan verloop.
45 min later stop ons voor Bonamanzi se hek.
Ons betaal die R300 ingangsgeld en hoor ons moet die volgende dag voor 10:00 uit wees anders betaal ons weer R300.00. Hierdie is bietjie vir my ‘n vreemde konsep. Brittany se pa besit ‘n huis op Bonamanzi, en selfs sy eie dogter en vriende moet per dag betaal as hulle kom kuier?
By Brittany se pa se huis is alles reg vir die groot kuier. Die stoele is uitgepak rondom die boma. die boot lê en wieg klaar op die ligte deining van die Bronkhorstspruit dam se water. Die Cadac en skottelskaar staan eenkant reg vir die ontbyt, en die Coca Cola yskas is vol drankies.
Carina se paptert is klaar gemaak en staan onder foelie in ‘n bak en wag vir die aand se braaiery.
Ons maak ‘n drankie oop, en begin te kuier.
Brittany se pa het die oulikste plekkie. Reg op die water, drie slaapkamers en ‘n groot kuier area. Daar is ‘n groot bord op by die braai wat sê: “ FAMILY, Forever, for always and no matter what. Ek het nog nie eers die mense ontmoet nie…en ek hou klaar van hulle.
Eers maak die vrouens vir ons ‘n lekker “brunch.” Mens kan darem nou nie op ‘n leë maag drink nie.
Carina het hierdie dag baie duidelik haarfyn beplan. Sy het ‘n app afgelaai op haar selfoon. “Picolo drinking game” Ek is nie juis een vir ‘games’ nie, maar kort voor lank geniet ek dit net so baie soos die ander. Ek gaan definitief die app self aflaai. Een van die hoogtepunte moes definitief gewees het toe Timothy en Graham moes dans. En toe Yolandi elke keer moes dubbel drink wat Surika drink wanneer Surika drink. (Nie eintlik ‘n straf vir Yolandi nie) Ons lag ons in ‘n papie vir al die snaaksighede.
Graham se werk is om trokke te hanteer wat oorgrens gaan en goed vanaf ander lande na Suid Afrika bring en, omgekeerd. Hy is baie bekommerd want een van sy trokke het so 900 km van hier af gebreek, en die trok wat hom moet gaan help om sy vrag oor te neem se “fanbelt” het ook nou gebreek. Hy is heeltyd op sy selfoon en rekenaar besig om alles uit te sorteer. Ek dink die speletjie wat ons nou speel help ook bietjie vir sy stress levels.
Dis nodig dat mens bietjie wegkom en ander dinge doen in jou lewe, anders gaan jy gou ‘n hartaanval kry as jy ‘n werk het met baie spanning. Spandeer spesiale tye saam met mense soos Surika, Carina, Brittany, Yolandi, Timothy en Graham.
Bietjie later vat Brittany eers die vrouens en toe die mans uit vir ‘n draaitjie in die boot. Die girl se hande staan vir niks verkeerd nie. Sy kan boot ry, dit launch, selfs dinge regmaak, soos sy sê sy is haar pa se “handygirl” En dan het sy nog ‘n baie oulike persoonlikheid ook. Carina het goed gedoen met haar, BAIE goed.
Lulu geniet die bootrit baie, sy wil sommer uit die bewegende boot uit spring om ‘n paar eende te gryp.
Ons word bederf met die ongelooflikste sonsondergang oor die dam. Ons steek terselfdertyd ‘n vuurtjie aan en staan en kuier rondom die vuur. Dis mos nou die lewe man.
Miya, Amy en Stella speel ‘n hond uit ‘n bos uit, jy weet nie eers van hulle nie. Gepraat van hond. Lulu kan nie meer nie, hierdie is meer “excitement” as wat sy nog ooit in haar lewe op een dag gehad het, sy lê net daar en kom nie eers as jy haar roep nie. Rol net die ogies op en kyk na jou in erkenning.
Graham begin nou die trokke uit te sorteer. Hy het ‘n “fanbelt” gekry en die prys afgestry by die man wat dit verkoop. Die lewe is lekker.
Ek kry sommer nog ‘n Black label. Lekker by die dam!
Brittany voel nie lekker nie, sy het bronchitis en ons jaag haar bed toe. Volgend haar is sy “ok”. Maar almal kan sien sy is nie “ok” nie.
Surika en ek besluit op ‘n vroeë aand, ons is bietjie moeg. Timothy, Yolandi en Graham is egter nie bang nie en pak die aand verder aan…bier in die hand.
Ek dink hulle het die aand TE veel geniet want Surika sê sy het Yolandi in haar slaap hoor praat, sy maak sulke kerm geluidtjies. Yolandi sê dit was van hoofpyn. (Seker maar te veel vars lug by die dam)
Die volgende oggend is almal vroeg op, ons eet die oorskiet en Carina skuif en pak alles reg. Ek het nooit geweet die girl is so “domesticated” nie.
Ons dag saam met die werksmense is verby, almal het toe nou BAIE goed oor die weg gekom. Selfs Lulu, Anna en Jade.
Ons besluit om op pad terug bietjie by die Nan Hua Boediste tempel om te gaan in Bronkhorstspruit. Die plek is werklik indrukwekkend. Hulle het dit begin bou in 1992 nadat die Bronkhorstspruit Munisipaliteit 2.4 vk km grond geskenk het. Die eventuele koste van die tempel was so R60 miljoen wees. Dis die grootste boediste tempel in Afrika.
En dan draai ons die Cruiser se neus huis toe op pad deur Bronkhorstspruit.
Ons ry verby ‘n wit boer wat nartjies uit sy “doublecab” uit verkoop langs die pad. R 15.00 ‘n sakkie.‘n Entjie verder is ‘n swart man besig om mielies te braai en te verkoop langs die pad. As ek nie nou net ge-eet het nie het ek wraggies gestop en een gekry want dit lyk heerlik. Suid Afrika is besig om ‘n land van entrepreneurs te word. Mense is nie bang om dinge te probeer nie. Ek hoop die twee manne maak hulle geld vir die dag.
Ons draai af op die N1.
Uitgestrekte vlaktes en plase links en regs van ons. Ons ry verby ‘n kruis langs die pad, ‘n Coetzee is hier oorlede. ‘n Entjie verder weer ‘n kruis langs die pad, die keer aan die regterkant. Die ene het ‘n vars bos blomme op. Ek wonder wat het hier gebeur? Dis so ‘n reguit stuk pad. Wie was die mense, en wie laat hulle agter? ‘n Mens moet maar jou lewe reg hou, jy weet nie wanneer is jy net ‘n kruis langs die pad nie.
Ons kry ‘n koeldrank by die Sasol langs die pad. ‘n Middeljarige oom met ‘n stywe Leeus hempie sit saam met sy vrou in die son en eet ‘n lekker groot Steers burger. Hy wil darem nou wys sy span het gister die Stormers gewen. Ek wonder of hy dieselfde hempie gister met die wedstryd gedra het?
‘n Ent verder ry ons by ‘n massiewe advertensie bord verby wat sê: “God is Good” ‘n Entjie terug by die boediste tempel was daar ‘n kar langs ons geparkeer met ‘n “bumper sticker” “Pagan…and proud of it.” Soveel mense, soveel opinies. En almal glo hulle is reg.
Ons naweek is verby.
Dit was ongelooflik lekker, saam met mense wat miskien baie verskillend is van my, maar waarmee ek uitmuntend oor die weg kom en vir wie ek sommer nog liewer geword het.
Soos Tim Berners-Lee (die man wat die internet uitgedink het) gesê het:
“We need diversity of thought in the world to face the new challenges.