Botswana Vakansie 8 – 18 April 2018

Tshidi en Shebo het hulle troue deur ons geboek. Maar nie sommer net so ‘n troue nie . Hulle “white wedding” was geboek vir Summer Place in Hyde Park. En die awesome gedeelte, ons is ook geboek vir hulle tradisionele troue in Botswana die volgende naweek. Ons was nog nooit in Botswana nie, so die idee om soontoe te gaan, en die klient betaal die reiskoste is baie aanloklik.

Ons enigste probleem is hulle bly net oor die grens in Pitsane, en al die mooiste gedeeltes is in die Noorde van die land.

Ons besluit om die Sondag net na hulle Saterdag troue te ry. Die week vakansie te hou, en dan die Sondag na hulle troue bietjie na die Noorde te ry en daar te verken. Ons moes weer die Vrydag na hulle troue terug wees want ons het dan weer ‘n troue in Pretoria aan die gang.

Ons begin Tracks 4 Africa se kaarte te bestudeer.

Ons besluit die eerste week gaan ons hoofsaaklik in die Kalahari deurbring.

Net die woord Kalahari bring al wonderlike eksotiese gedagtes op. Een van die heel laaste regte wildernisse wat oor is in Afrika. Wonderlike sonsondergange terwyl jou vuurtjie brand en jou Black Label koud in jou hand sit. Weg van die beskawing en ander mense, weg van die probleme. Leeus wat jou in die nag wakker hou met hulle gebrul. En dan natuurlik jou verhoogde adrenalienvalakke. Want sien, die kampplekke in die Kalahari het nie draad om nie. Jy kamp net so in die bos, so die diere kan reg langs jou verby loop…of aan jou tent kom snuif. Ek moet erken ek was bietjie bekommerd, wel bekommerd genoeg om “Lions in the camp Kalahari’ te gaan opsoek op You Tube….en dit het natuurik nie baie gehelp nie, want net die heel skrikwekkendste videos maak dit uit die aard van die saak na bo op die soeklys.

Maar wat, ons is mos nie bang nie, ek wil in elk geval eerder in die Kalahari kamp as in ‘n Aventura oord.

So far so good. Terwyl ek hierdie sit en tik, het ons darem al twee aande in die Kalahari oorleef. Maar ook amper nie…maar dis netnou se storie.

Ons het ons bespreking vir Khutse Game Reserve gedoen deur Bigfoot Tours 

Twee aande in Molose en een aand in Moreswe.

Ons het besluit om by Skilpadshek se grenspos in te gaan. ‘n Vinnige soektog op 4×4 Community Forum se website het ons op die spoor van Sharon en Andries du Plessis gebring, hulle het ‘n plaas net oor die grens naby Lobatse en het ‘n pragtige kampplek op hulle plaas gebou.

Ons het die week voor die tyd bietjie by Ramon van LA Sport Pretoria Oos gaan aanklop.

Ons het geweet hierdie keer is daar nie krag by staanplekke nie en ons gaan definitief ekstra krag nodig he om ons yskasse en ligte aan die gang te hou. Ons het ‘n 90 l National Luna Yskas/diepvries in die Echo 4 treiler ingebou en ‘n 35 l Engel yskas/vrieskas in die Cruiser ingebou.Genoeg plek dus vir die koue biere en die vleis.

Ramon het al die elektriese bedrading op my Cruiser gedoen en hy was net die man vir die joppie.

Hy het vir ons ‘n 120W solarpaneel onder die Crusier se dakrak ingebou, dit sluit met ‘n slot en kan in en uitgetrek word. Ons  Ek het ook ‘n nuwe Protecta dc/dc charger laat inbou in die Cruiser se enjin. Die HCDP dc/dc charger het ek laat uithaal, hy het nou begin probleme gee. Ek sal hom maar laat “overhall” en Timothy kan dit in sy Jimny laat inbou wanneer hy dit kry. Ek is nie lus om te sukkel met iets wat nie 100% werk terwyl ek in die Kalahari is nie. Ramon het ook vir my ‘n solar regulator in die Echo ingebou. Ek kon dus die 74a/h battery in die treiler met die solarpaneel charge asook die 105a/h battery wat voor in my Cruiser ingebou is as tweede battery. Die Protecta dc/dc charger charge ook die kar en die treiler se batterye terwyl jy ry. En dit alles vir net onder die R 10 000-00. Ek hou daarvan om besigheid met hom te doen. Om jou ‘n idee te gee. Net voor ons oor die grens gegaan het  was daar iets wat ek nie verstaan het nie. Ek het Ramon op sy selfoon gebel, hy het heel kalm en bedaard alles vir my weer ‘n keer verduidelik…op ‘n Sondag middag. Dankie Ramon, jy gaan nog ver kom in die lewe met sulke tipe diens.

Ek het ook weer ‘n satellietfoon by Shana van sat4rent.co.za gehuur. 12 dae en 30 min praattyd, R2075.00. Dis die tweede keer wat ek met haar besigheid doen. Sy maak dit so maklik om met haar besigheid te doen. Die dag wat ek betaal het het die courier al die satfoon kom aflewer.

Ek het net besluit dis een ding wat ek nie op gaan spaar nie, ons reis alleen, in onherbergsame areas, so as iets gebeur wil ek met iemand in verbinding kan kom. Min het ek geweet hoe nodig gaan ek nog die satellietfoon op die trippie kry.

Ons het die Saterdag aand laat van Tshidi en Shebo se white wedding af gekom, en net uitgeput in die bed gavel. Sondag sou weer net een van daardie dae wees, baie dinge om af te handel voor ons kon ry.

Dag 1: Sondag 8 April

Afstand gereis: 477 km

Sondag oggend breek toe aan, ons moes nog ons troue van die vorige dag aflaai op ons server, batterye charge, treiler pak, groceries gaan koop, Miya gaan haal wat by ‘n maatjiie geslaap het, gas volmaak, ‘n paar dinge by die apteek koop vir die rit ens ens. Die stress vlakke was lekker hoog toe ons net so na 13:00 se kant ry.

Die rit grens toe het vinnig en maklik verloop, daar was nog so ‘n paar besigheidsoproepe terwyl ons in SA was.

Skilpadshek Grenspos

Net na 17:00 stop ons by die grens, ons is deur die SA kant in minder as 5 min, die Botswana kant was bietjie stadiger. Jy kon sien hier gebeur dingte nie vinnig nie, ek meen, hulle ou President, Ian Khama, se foto hang nog in doeane..

Eers moes ons vormpies invul, paspoorte laat stamp, toe in die ry gaan staan vir die road fund betaal. P450 vir ons kar en treiler. Voor ons staan ‘n klomp baie opgewonde toeriste van Frankryk af in hulle skoongewaste Britz 4×4 huur Toyotas met daktente op, reg vir hulle groot Afrika avontuur. Kameras reg om die nekke en uitgedos in hulle nuwe Afrika safari klere.

Net na 18:00 is ons deur die grens.

Een ding om te noem. Die beamptes aan die Suid Afrikaanse kant is ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Hulle badkamers is so skoon en netjies jy kan dit skaars glo.

Phuduhudu Safari camp

S25° 19.066′ E25° 36.739′

sharondoepie@gmail.com

Tel: +267 71304897 of 8

R130 per grootmens per aand en Miya wat 8 jaar ous is was gratis. Hulle vra ook R100 per voertuig.

20 min laat trek ons by die Du Plessis se plaas in. Ek het vroeer die dag met Doepie oor die telefoon gesels, hy vra ek moet asb net vir hom twee lekker wit Sasko of Albany wit brode saambring, die brode in Botswana is nie na sy smaak nie.

Ons ry eers die helfte van sy plaas vol op soek na die kamp, en kry dit eventueel. Sy twee honde draf oral saam met ons. So ‘n swart gespikkelde Great Dane wat Miya Hannes noem en so ‘n ou hond wat Miya Kylie doop. Hulle bly toe sommer die heel nag saam met ons.

 

Ons eet nie die aand nie, niemand is nou lus vir kos maak nie. Ons het te veel chips en biltong en droee wors op pad geet. Mens kan egter nie met ‘n lee maag gaan slaap nie so ons drink elkeen maar twee biere. Miya en ek gaan vang ‘n vinnige dip in die yskoue swembad en gaan klim lekker verfris in die bed. Twee ure later maak Surika my baie bekommerd wakker, sy hoor iets al om die treiler. Dapper held wat ek is is ek dadelik uit gewapen met my kopflts. Reg om my vroue en dogtertjie te beskerm (sonder my kontaklense, so ek kan nie veel sien nie) net om my vas te loop in die ou hond wat heigend al om die treiler loop, Marius le rustig en slaap.

Die res van die aand verloop sonder enige verdere voorvalle.

Die volgende oggend slaap ons laat, die laaste twee weke se harde werk vat nou aan ons. Ons vang ‘n lekker warm stort en maak vriende met Doepie se mak kameelperd. Hulle het hom al vandat hy 8 dae oud is. Ons kom eers so net na 10;00 weg op Doepie se plaas. Miya vind uit dat Marius se naam eintlik Shaggy is.

 

Dag 2: Maandag 9 April:

 

Afstand gereis; 310km

Ons vat die pad Noord vir ons groot Kalahari avontuur. Wat opval in Botswana teenoor bv Mosambiek waar ons laas op vakansie was. In Mosambiek is daar oral gehuggies en schacks. In Botswana is dit natuur net waar jy kyk behalwe natuurlik in die dorpe en stede. Dis ook ‘n baie skoner land. Dit het seker iets te doen met die feit dat daar net oor die 2 miljoen mense in Botswana is.

Ons stop eers langs die pad en Surika maak vir ons iets om te eet.

Ons sien ‘n baie interessante verskynsel. Ons ry by ‘n begraafplaas verby. Elke graf het so ‘n klein groen dakkie op, net so 30-50 cm bokant die grond.

Daar is baie Afrikaanse mense ook in Botswana, oral sien mens Afrikaanse name.

Ons ry vandag deur na die Khutse Game Reserve waar ons drie aande gaan slaap.

Ons vat die A2 en draai net voor Kanye af Noord na Thamaga op die A10

Naby Thamaga draai ons van die A10 af af op die B111 wat nogal sleg is, baie postholes.

Oral onder al die bome is daar sulke klein plantasies klein geel blommetjies. Miya raak baie opgewonde oor ‘n man wat met ‘n persdverby ry. Sy is nou in haar perde fase.

Ons ry deur Molepolole en draai dan regs af op die B102 na Lethlakeng.

In Molepolole sien ek ‘n donkiekar langs die pad staan, die man is besig om sy wiel om te ruil. Ek vra hom of ek ‘n foto kan neem, hy sĂȘ ja, enige tyd. Net klaar geneem, en hy wil geld hĂȘ. Ek se toe vir hom : “Nee wat, dan delete ek eerder” Hy sĂȘ ek kan dit dan maar hou.

Lethlakeng is die laaste dorp waar jy petrol en voorrade kan koop voor jy die Kalahari binnegaan.

Ons maak die Cruiser se tenk vol en gooi nog 120 l petrol in ons jerrykanne.

Ons koop ook ‘n paar goedtjies by die plaaslike Choppies supermark wat pragtig skoon en modern is.

Dan ry ons verder na die Khutse hek. Vanaf Lethlakeng is dit nou ‘n 95 km grondpad.

Ons stop in Salajwe by die Ikemele Bar en koop 11 x 500ml Black Labels. P187.00. Die manager die toonbank  gee vir my ‘n netjiese uitgeskryfde kwitansie wat hy uit sy boek skeur. Ek is bly ons het hier bier gekry. Dit was die laaste plek voor Khutse waar ons kon drank koop.

Oral langs die pad is daar beeste en donkies. Hulle bly staan maar so in die pad en jy ry om hulle. Die geel blommetjies is nou oral langs die pad. Die bosveld ‘look” begin nou so bietjie uit te dun, daar is al minder groot bome langs die pad.

Khutse Game Reserve

Ons gaan nou 3 aande in die Khutse Game Reserve slaap.

Besprekings word gedoen deur Bigfoottours.co.bw

reservations1@bigfoottours.co.bw

Die koste is P1750 vir die drie aande

By die hek moet ons ‘n verdere P870 vir die drie dae vir ekstra park fooie betaal.

Ons koste vir die drie aande is dus nou P2620-00. of te wel R1091.00 per nag.

Ons koop ook sulke klien bondeltjies hout by die hek. Hulle begin eers met P30 per bondeltjie, maar toe hulle my egsig sien maak hulle dit P20 per bondeltjie en maak die bondeltjie so ‘n bietjie groter.

Ons slaap die eerste aand by:

Khutse 1 kamp.

S23°20.472′ E24°30.179′

Dis so 13 km van die ingang af.

Die kamplekke is glad nie omhein nie en die wild (en leeus) kan dus deur jou kamp loop. Die geriewe is ook baie basies. ‘n Puttoilet. (jy moet na die tyd jou toiletpapier verbrand) en ‘n “bucket” stort. Dit is basies ‘n emmer wat jy vol water maak (Daar is nie water in die kamp nie, jy kan net by die hek volmaak) Daar is dan so ‘n kraantjie wat jy oop en toedraai om die water te reguleer. Ons voel nou sommer baie soos Kapenaars met die waterbeperkings!

Die sonsondergang is ongelooflik. Dit is so stil, Surika sĂȘ sy kan haar bloed deur haar are hoor loop.

 

 

 

 

 

 

Ons braai ontbeende skaaprib wat ons by Hokaai Meat market gekoop het. En natuurlik ‘n lekker garlic brood.

Ek wou sĂȘ ons het die aand heerlik rustig geslaap, maar dit was ons nie beskore nie. Surika maak my so 01;00 se kant wakker. Sy hoor iets. En sien iets stamp aan die tent. Ek besluit daar is net een manier om my vrou nou rustig te kry. Ons gryp ons komberse en sit af na die kar toe. Hier slaap ons ‘n baie ongemaklike twee ure voor ons weer terug na die tent trek. My rug was twee dae later nog seer!

Dag 3: Dinsdag 10 April.

Ons ry 65km

Ons ry deur na Molose waar ons die aand in kamp 1 gaan kamp.

S23° 23.056′ E24° 11.213′

Die paadtjies is smal en sanderig. Dit vat jou so ‘n uur om 20 km te ry hier. Ons ry eventueel net oor die 4 ure aan ons 84 km, teen ‘n gemiddelde spoed van 20,4 km/h.

 

 

 

Takke krap die heeltyd die kant van jou voertuig soos jy ry. Ons sien GEEN wild nie. Hierdie trant sou by Molose voortduur.

Miya kry bietjie ‘n kans om die FJ te bestuur vir so 2 km.

 

 

 

Hulle het ‘n watergat daar waar hulle met ‘n dieselpomp wat solar aangedrewe is water uitpomp. Die enigste wild wat ons egter in die dag daar sien is twee duiwe, ‘n Bateleur en ‘n Kori Bustard. Verder NIKS. (O ja, darem ‘n paar tarentale ook)

Bateleur. p92 Birds of Southern Africa.

 

Die is ‘n Kori Bustard. p156 Birds of Southern Africa.

Ons kamp het ook nie ‘n stortkop nie, so ons gaan steel maar een by Molose 2. Daar is in elk geval niemand hier behalwe ons nie. Kammplek 2 is so twee km weg van Kampplek 1 af. So alles is baie privaat hier.

Dit reen ook die middag, baie snaakse reen, die druppels is baie sag en val net so hier en daar.

Die vraag is natuurlik, is dit die moeite werd om so ver te ry? Ek kan op skoonpa se plaas in Thabazimbi rondry en baie dieseslfde sien.

Maar, hierdie is die Kalahari, en dis net eenvoudig ‘n onbeskryflike belewenis om hier te wees. Hulle sĂȘ hierdie is een van die laaste regte groot wildernisse wat in Afrika oor is. Die stilte, die sonsondergange, die prag van die natuurskoon maak dit net iets wat mens MOET ervaar. Ek besluit dadelik dat ek nog hierdie Kalahari van Suid na Noord gaan deur ry.

 

Die aand braai ons sirloin en maak ‘n braaibroodtjie.

Ons Echo se neuswiel het afgebreek en ons moes nou plan maak. Ons lig nou die treiler met die kar se domkrag op en sit die spaarwiel en bakstene bo op onder die hak om die treielr op te hou. Dis egter ‘n baie wankelrige affere en ons slaap dus eerder op die grond in die tent as bo op die treiler. My rug kry dus weereens slae vanaand.

Ek bel vir Timothy op die satellietfoon sodat hy vir ons iemand kan soek wat die treiler kan regmaak wanneer ons uit die Kalahari uitkom.

Die oggend stort ons vir die eerste keer in ons bucket shower, wat ‘n belewenis. Ons gebruik so 25 liter water. Miya en ek gebruik saam 10 l en Surika gebruik 15 liter.

Die volgende oggend vroeg is ons op en gaan sit lang die watergat. Daar is absoluut geen wild nie. Behalwe vir die een ou leeu hieronder wat Surika kon afneem toe hy kom water drink het.

 

Die was no0gal interessant, Sampioene wat uit dieremis groei.

 

 

Ons vind ook uit dat ons treiler se 74a/h batterytjie hopeloos te klein is vir ‘n yskas en een lig. En ons het ‘n National Luna wat nie veel Amps trek nie. (Die lig is ook National Luna)  Ons moet basies die solar heeltyd gekonnekteer aan die treiler hou anders raak die battery pap. Hierdie treiler kort definitief ‘n ekstra battery of twee. Dankie tog ons het die solar laat installeer.

 

Dag 4: Woensdag 11 April

Ons ry 48.9 km

Ons kamp by Khutse 9

S23° 20.508′ E24° 30.075′

Ons ry van Molose af na Khutse toe waar ons die laaste aand gaan slaap.


En net toe ons dink daar is geen wild in Khutse nie kry ons ‘n troppie met 12 Olifante wat so 6.5 km van Khutse kamp af staan en speel in die stof. Ons sien ook ‘n mooi troppie gemsbokke. Daar hardloop ook ‘n meerkat voor die kar in, hy maak egter so vinnig ‘n u-Turn toe hy ons sien aankom jy sien net so ‘n stofwolkie soos hy omdraai.

 

 

 

Die middag spandeer ek bietjie tyd aan die blog skryf vir die vakansie. kan ‘n mens nou ‘n mooier kantoor kry?

Surika en Miya gebruik die kans om te gaan “rus”

Hier is ons kampplek.

 

Ons sit sonsondergang by Khutse pan.

Daar ontmoet ons ons bure. Hulle kamp by Khutse 8 en ons by Khutse 9.

Hulle is ‘n groep van 3 mans en twee vrouens. ‘n Man kom stel homself voor:

“Hi, I am Charlie from Vienna”

 

En daar staan ons toe ‘n uur lank langs die Khutse pan en gesels met die mense van Oostenryk af. Ons drink bier terwyl die son in die weste sak.

Charlie hou van sy bier.

 

 

Charlie hou van Afrika, eintlik is dit nie die waarheid nie, hy is MAL oor Afrika. Hy sĂȘ dis sy 21 ste vakansie in Afrika. Hy is ‘n alleenloper, partykeer kom hy saam vriende, en partykeer alleen. Hy was ‘n verkoopspersoon en nou werk hy by ‘n “call centre” Hy bly in ‘n klein woonstelletjie, hy sĂȘ as hy dit nie doen nie sal hy nie gedurig Afrika toe kan kom nie.  En dit is sy lewe. As dit nie vir sy ou sieklike ma was nie het hy dalk al Afrika toe getrek.

En hier staan ons, twee mense wat mekaar nie ken nie, die een van Suid Afrika en die een van Europa, en ons gesels lekker want ons deel ‘n gesamentlike belangstelling. Die ongerepte natuur van Afrika.

Ek gee vir hulle bietjie van skoonpa se mampoer, (wat hulle baie geniet) en hulle gee vir my ‘n bier. Ek  gee ook my kaartjie vir hom, ek hoop ons hou kontak.

Later ry hulle, en ons bly staan tot die son onder gaan.

Miya soek die diere…tevergeefs. Ek weet nie waar drink Khutse se diere water nie, maar dis nie by hulle watergate nie.

 

Later ry ons bietjie verder en kry ‘n paar Springbokkies

 

Surika is so beindruk sy ruk sommer haar Sony FS5 uit vir ‘n video van die bokke.

 

 

 

 

Maar as jy die tipe sonsondergange het het jy nie eintlik diere nodig nie.

 

 

 

 

Ons braai weer die aand, en gaan kruip later in.

 

Ons het so 2 ure geslaap…en hier brul ‘n leeu so naby dit klink of hy skaars 100 m van die kamp af is. Die probleem is natuurlik jy weet nie watter kant toe hy loop nie.

Om te se ons het ons gatte afgeskrik is om dit sagkens te stel.

Ons besluit dis veiliger om maar weer die veiligheid van die Cruiser op te soek. En daar slaap ons toe so 2 ure voor ons weer terug gaan na die tent toe. Ons hoor ons leeu nog twee keer brul, maar elke keer bietjie verder weg.

Dag 5: Donderdag 12 April

Ons ry 258km

Kamp by Mokolodi Packpackers

https://www.facebook.com/mokolodibackpackers/

S24° 44.442′ E25° 49.678′

Ons vertrek vandag uit die Kalahari uit. Ons het nog nie slaaplek vir die aand nie, maar ons gaan nog iets kry. Ons eerste prioriteit is nou om ons treiler reg te maak.

 


Op pad kry ons eers ‘n Botswana simkaart. Dis nie so ‘n maklike proses soos in Mosambiek nie. Niemand weet wat jy hulle vra nie.

Ons koop toe ‘n simkaart van Mascom. Hier is drie “service providers? Orange, Mascom en BCT. Die Simkaart was P10, jy registreer dan sommer oor die telefoon deur jou besonderhede en paspoort nommer te gee en basies onmiddellik is jy ge konnekteer. Ons het P70 se lugtyd gekoop en dit oorgeskakel in 500 mb data.

Jy kan ook roaming doen op jou SA simkaart. Dan betaal jy R17.50 per mb. R6 per minuut vir oproepe ontvang en maak en so R2.75 per sms. Wat natuurlik nog steeds heelwat goedkoper is as die satellietfoon tariewe.

Ons  Echo 4  treiler het  probleme gegee op die Vakansie. Eerste dag in die Kalahari. Ek draai die neuswiel los, en die hefboom waarmee jy die neuswiel vasdraai breek af in die skarnier wat die neuswiel vashou. So, daar sit ons. Ons kan nie meer die treiler heen en weer stoot nadat ons dit afgehak het nie, en ons kan nie meer bo op die treiler slaap nie. (baie problematies in die Kalahari waar leeus is en deur die kamp kan loop) Ons het toe maar elke keer wanneer ons afhak die treiler met die Cruiser se domkrag opgelig en as ekstra maatreel die spaar band met bakstene op onder die hak van die treiler gesit.

Ons kom so 15:45 in Gaberone aan by Trail-Quip. Charlene en haar pa se besigheid. Hulle bou hoofsaaklik “cattle trailers” Sy het dadelik almal  in die fabriek se werk gestop sodat hulle eers ons probleem kon oplos. Hulle het nie die regte “clamp” daar gehad vir ons neuswiel nie maar ons het toe ‘n tipe Poot wat kan op en af stel laat aansit aan die anderkant van die jockey wiel. Die poot kan 900 kg dra, wat baie meer is as die jockey wiel wat aan is. Dis in elk geval iets wat ek lankal wou doen want ek dink die jockey wiel is onvoldoende as enigste stut wat die treiler aan die voorkant in die lug hou  (met mense wat bo op die treiler slaap)Die neuswiel sal ons nou maar by Echo 4×4 terug in SA laat herstel. Net na 17:00 en P1500 later was ons weer reg om ons tog te hervat. Dankie vir jou puik diens Charlene.

Surika het in die tussentyd bietjie ge Google en besluit ons moet die aand na Mokolodi Packpackers toe gaan. Hendrik Wierenga se plek. Hulle is net buite Gaborone.

Ek het my bedenkinge gehad om by ‘n bacpacker te gaan kamp. Maar was ek aangenaam verras. Die personeel van Mokolodi was my verassing van die trip sover. Hulle klientediens is uitstaande en hulle is so vriendelik. Jy praat skaars of vra iets dan het hulle dit al klaar gedoen. Die plek is ook pragtig, skoon en veilig.

Ons kamp sommer so in hulle parkeer terrein, en een van die helpers bring vir ons ‘n kruiwa om in te braai.

Ek parkeer my FJ voor die einaar se Rolls. (Moet sĂȘ die FJ lyk bietjie beter.)

Hulle vra ons R459.02 om die aand daar te slaap.

Ons geniet die warm stort baie.

 

 

 

Dag 6: Vrydag 13 April

Ons ry 96.9km

Vandag ry ons deur na Tshidi se pa se plaas toe. Dis net anderkant Pitsane. Gelukkig ry ons weer by Doepie en Sharon se plaas verby waar ons die eerste aand geslaap het. Surika het haar nagklere in die stort vergeet. Ons kry dit sommer gou.

Vroeg die middag is ons op die plaas. Die 95 km van Gaborone af Pitsane toe het sommer vinnig gegaan.

Op die plaas is dinge in volle swang vir die troue die volgende dag. Daar is nie B&B’s en hotelle in die omgewing nie. So Tshidi hulle het ‘n maatskappy gehuur wat 50 tente kom opslaan het. Elke tent het twee beddens in sowel as ‘n tafel en ‘n aparte tentjie buite met ‘n Porta Potti en ‘n warm stort. Mensig. Dis amper soos ‘n mobiele hotel. Ons gesels met Pieter, die man in beheer van die hele tent opslanery. Hy se hulle doen dit oral oor die land. Dis sy werk, hy en sy span van 13 mense is voortdurend op reis na ‘n ander dorp, of geleentheid waar hulle hulle tente gaan opslaan.

Ons slaan toe maar ons tentjie langs die ry op.

Dag 7: Saterdag 14 April

Ons is net na 6 op en drink ‘n koffie en kry alles reg vir die troue. Vandag gaan ‘n lang dag wees.

Ons begin 08:00 met die troue.

Net na 20:00 die aand stap ons doodmoeg na ons tent toe.

Nog ‘n suksesvolle troue gedoen.

Maar die mense by die troue gaan slaap nie, ons hoor amper nog reg deur die aand mense kuier en musiek speel…skielik is ek bly ek is ‘n fotograaf en nie ‘n DJ nie.

‘n Baie dronk ou staan vir ure langs ons tent en baklei met homself. Hy doen dit so oortuigend, Surika dog eers hy praat op die telefoon en baklei met homself. Hy gaan eventueel eers slaap toe dit lig raak.

Dag 8: Sondag 15 April

Ons ry 404 km

Slaap by Masama Lodge

S22° 25.919′ E26° 49.409′

Surika en ek word vroeg wakker en maak ‘n koppie koffie. Hier sit ons en drink koffie en kyk hoe die son opkom.

Daarna pak ons rustig alles op en maak skoon soos ons aangaan.

Al ons kaarte met die troue op moet ook op ons rekenaars  gesit word.

Ons maak weer ons water tenks vol op die boorgat op die plaas.

Ons het ‘n lang pad voor ons vandag. Ons weet nog nie waar ons gaan slaap nie. Maar ons beplan dit moet erens naby Serowe wees.

Ons stop by Lobatse en koop ‘n paar slotte vir die treiler. Ons het mos ons slotte verloor in die Kalahari. Ons kom agter die treiler se agterste deur het oopgegaan, en ons sak hout van P20 het uitgeval.

Surika is op die selfoon en soek plekke waar ons kan gaan slaap die aand.

Die mense in Botswana bestuur baie sleg op die hoofpaaie. Wanneer hulle ander motors verby steek probeer hulle glad nie om dit veilig te doen nie. Baie keer steek hulle ‘n paar voertuie op ‘n slag verby en maak dit net net voor ‘n aankomende voertuig hulle tref. Ons self moet meer as een keer gevaarlik brieke aanslaan en uitswaai om een of ander padvark se lewe te red van ‘n aankomende voertuig.

Ons ry op die A1 deur Gaberone, Dinokwe, Mahalapye en draai links by Palapye en ry in die rigting van Serowe.

‘n Captain K skakel ons terug en se hy is van Masama Lodge af. Hy het ons oproep 3 dae vroeer gemis. Hy het kampplek vir ons.

Masama Lodge is ‘n juweel van ‘n plek. Dis so 15 km van Serowe af.  Captain K het so 4.8 ha hier gekoop en ‘n paar bungalows gebou en kammplek gemaak. Hulle het die mooiste rotskoppies daar wat ons gaan uitklim. Ons “host” Gaone wys ons bietjie rond. Sy is baie geinteresseerd toe Surika die drone vlieg.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons kampvuur is sommer klaar gepak vir ons.

Die aand braai ons van die  sirloin steak wat ons nog by Hokaai in Suid Afrika gekoop het.


Surika maak vir ons lekker chips saam met dit.

 

Dag 9: Maandag 16 April

Ons ry 254 km

Gaing O Trust kantore: S21° 08.774′ E25° 39.190′

Website; http://kubuisland.com

Slaap by Gaing O Trust se alternatiewe kammplek naby Mmatshumo

S21° 06.036′ E25° 39.367′

Ons word wakker by die pragtige Masama Lodge. Ons stort werk nie by die kampterrein nie so hulle het vir ons die geiser aangesit in een van die rondawels. Die stort is verskriklik klein. Ek lyk soos daardie mense wat hulle in ‘n Tube vries en oor 1000 jaar wakker maak in ‘n ander Galaxy. Maar….ons is vir die eerste keer in drie dae weer skoon.

Ons maak ‘n lekker breakfast van worsies en eiers met lekker dik gesnyde bruinbrood van Botswana. daarna gaan neem ons fotos van die pragtige wildvy bome waat teen die rotse groei.

 

 

 

Ons is nogal beindruk met hulle baie ou TV in ontvangs wat nog steeds werk.

Die ingang na Masama Lodge. Miskien bietjie tyd vir nuwe signage?

 

Ons sou eers P100 vir my en Surika betaal het  by Masama Lodge en Miya was gratis. Toe ons vanoggend die rekening kry was dit P280. P200 vir my en Surika en P50 vir Miya en P 30 vir die hout. Volgende keer betaal ek sommer dadelik as ek by die kamp kom, voor ek opslaan, nie die volgende oggend nie. Ons het baie mooi drone fotos vir die eienaar Captain K geneem, ons sou dit vir hom verniet gegee het, nou gaan hy maar net betaal as hy dit wil hĂȘ.

Vandag ry ons na die Gaing O Trust se kantore by Mmatshumo. Dis so 235 km van Masama Lodge naby Serowe af waar ons gisteraand geslaap het.

Dis maar ‘n eentonige pad. Die bome en bossies raak al kleiner en eiler.

Ons wil graag Kubu Island toe gaan. Dis al ‘n jare lange droom van my. Ons wou laasweek bespreek, maar hull het gesĂȘ weens die reen is dit nie moontlik nie. Ons gee egter nie op nie en besluit om net deur  te ry. Miskien verander iets, mens kan nie so ver ry en dan nie Kubu Island besoek nie.

Ons stop by die Spar in Serowe en koop bietjie voorraad, vleis (ontsettend goedkoop), eiers, drank, ens. Hulle het egter ook nie bacon nie. Ons trek ook weer geld en gooi petrol in.

Dan vat ons die lang eentonige pad na Letlhakane toe.

Ons het bietjie skade langs die pad. Surika vergeet om die Echo se agterste stand  op te tel na sy  chocolate agter in treiler gesoek het. Die poot is dus beskadig en die bout wat dit vashou is weg. Dis in elk geval ‘n simpel patent. Elke keer as jy die agterste deur wil oopmaak moet jy eers die poot laat afsak.  (Huh?)

Ons koop ‘n bout by Lethlakane en die Kaap is weer Hollands. Ons sien ook ons opposisie in Botswana se HK.

 

Ons kry vir Masego by die Gaing O trust se kantore in Mmatshumo. Die trust hanteer die besprekings by Kubu Island en dit sorg weer vir die gemeenskap. Baie van die gemeenskap is Khoisan wat destyds op die panne gebly het.

Gaing O beteken Rots in Khoisan.

Ons gaan vanaand by die alternatiewe kampterrein bly. Is so 5 km van Mmatshumo. Af. Masego reken hulle gaan more kyk of Kubu Island weer bereikbaar is. Weens die swaar reens was dit nie bereikbaar die laaste twee weke nie.

Dit kos ons P165 vir die aand.

Ons koop 4 bondelties hout by Obed langs die pad. Dis eintlik P20 per bondeltjie, maar dis die “off season”en besigheid is min. Ons betaal dus net P60.

‘n Man met die naam Muller Ntshekisang wys ons waar is die “kamp” Ons ry agter hom aan. Dis so 5 km van Mmatshumo af.

Ons kampterrein is basies ‘n opening in die bos.

Nie gelyk gemaak nie, geen water, toilette, stort ens nie. Net soos ons daarvan hou.

Muller sĂȘ hy kry ons more oggend 08:00. Ons gaan dan agter hom aan probeer Kubu Island toe ry. Hy weet nie of ons dit met die treiler sal maak nie, maar ons gaan probeer.

Vanaand braai ons hoender en Surika maak pap en sous.

 

Hier is ook ‘n paar reuse spinnekoppe hier rond.

 

 

 

 

 

Hier is ons kampplek uit die lug.

En in die verte lĂȘ die panne.

Daar is ook ‘n lekker uitkykpunt naby ons kamp.

Ons gaan ry ‘n entjie in die rigting van die panne en sien ‘n paar eekhorinkies langs die pad.

Dag 10: Dinsdag 17 April

Ons slaap by Kubu Island

Ry 81km

Ek is op net na 5. Maak ‘n lekker koppie koffie en begin aan my blog te skryf. Stadig begin die donker al om my te vlug en maak plek vir ‘n rooi skynsel in die Ooste, dan oranje en blou. Die nuwe dag is hier. Kubu Island dag.

Ons hoop ons kan daar uitkom.

Ons ontmoet vir Muller langs die pad. Hy is so ‘n uur laat, hulle moes eers ‘n paar locals oplaai wat naby Kubu Island bly by van die “cattle stations”

Muller ry by ons, die Gaing O bakkie is te vol. Hy is nogal ‘n baie goeie bron van kennis. Hy vertel ons alles van die omgewing.

Net buite die Veterinary Fence stop ons om die hek oop te maak. Muller sien die Cruiser se agterwiel is pap.

 

Ek dog eers dis ‘n sny in die wiel, en dit sou beteken ons moet omdraai want mens kan nie in die wereld sonder ‘n spaarwiel rondry nie. Gelukkig is dit net ‘n gat. Ons maak dit reg met my Puncture repair kit en my nuwe wiel pomp kom sommer baie handig te pas.

Die pad is by tye baie nat en modderig. Ons kom by ‘n plek waar daar die vorige aand ‘n trop olifante verby is. Hulle voetspore is sommer so 30-40 cm diep in die modder getrap. Muller sĂȘ hier is vanaf 2016 olifante op die panne.

 

 

 

Ons ry 3 ure Kubu Island toe teen ‘n gemiddelde spoed van 26.5km/h.

En dan lĂȘ dit voor ons, die legendariese Kubu Island.

Die naam is eintlik Lekhubu. Lekhubu beteken “Heuwel” in Setswana.

 

 

Ons slaan kamp op en gaan sit onder ‘n boom. Dit is bloedig warm hier en die vliee neem die plek oor.

 

 

 

 

Ons ry bietjie om Kubu Island (wil eintlik van die vlieë probeer wegkom)

Daar is die pragtigste groot Boabab bome.

 

 

 

 

 

 

 

Die aand braai ons vleis. Of altans ons probeer. Daar is duisende muggies en muskiete rondom ons. Seker maak omdat dit die einde van die reenseisoen is. Jy kan skaars jou koplig aansit of die mugghies vlieg in jou oe in. Surika probeer ‘n sous in ‘n pan maak. Dis nie moontlik nie. Tientalle muggies vlieg onmidellik daarin. Ons gaan eet toe maar binne in die tent.

 

Die aand gaan “bad”  ons almal in een van die skottels.

En hier is ‘n klein videotjie wat Surika van ons dag by Kubu Island gemaak het

Dag 11 Woensdag 18 April

Ons slaap by die huis

Ons ry 817 km

Die volgende oggend is ons vroeg op en gaan neem Kubu Island met sonsopkoms af.

Hierdie is net eenvoudig die mooiste plek wat ek nog in my lewe gesien het. Nog iets om op my Bucket list af te merk

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dirk en Marissa kom ook vandag van Thailand af terug, Timothy gaan hulle optel.

 

Alles gaan baie lekker met die terugry van Kubu Island af. Ons stop om petrol vol te maak.

En bewonder die pragtige grasvelde wat ons deurry.

 

 

 

Afgewissel met dorre landskap hier en daar…

 

 

 

 

…tot so 2 km voor die Vet fence se hek.

Daar is ‘n groot plas modder voor ons. Ons moet baie vinnig besluit of ons die linkerkantste of regterkantste pad wil vat. Ons kies toe ongelukkig die linkerkantste ene. Binne 2 m is die Cruiser tot teen sy chassis in die modder. Aanvanklik is ek baie opgewonde om my nuwe “tracks” te probeer. Die modder is agter so diep dit help glad nie. Ons het seker so ‘n halfuur lank gesukkel toe ons sien hier kom ‘n voertuig van voor af aan. Dis die Gaing O Trust se 4×4.

Dankie tog.

Ons haak eers die treiler af en stoot dit uit.

Toe gebruik Muller en sy manne hulle highlift jack en lig die Cruiser op. Hulle grawe klippe uit en pak dit onder al die wiele. My “tracks” kom bo op dit. Al 5 die manne stoot aan die voorkant. ‘n uur en ‘n half na ons begin vassit het is ons weer uit.

My Cruiser was nog nooit so vuil nie.

 

 

 

‘n Rukkie later ry ons deur die vet fence.

Ons besluit ons gaan die grens by Martin’s Drift oorsteek. Ons wil egter vir oulaas erens net voor die grens kamp. Ons kry egter nie ‘n lekker plek nie en besluit ons gaan nou somemr regdeur huis toe ry. Ons koop KFC by Ellisras en verder. Die pad is lank en donker.

Ons kom doodmoeg so 23:30 by die huis aan.

Totale afstand gery : 2811 km

Kliente diens in Botswana

Die mense hier in Botswana is werklik vriendelik en hulle kliente diens is uitstekend. (die waarmee ons te doen gekry het in elk geval)

Johnson wat by die hek werk by Khutse, altyd ‘n glimlag op die gesig, altyd bereid om te help. Hy het twee keer langs die pad by ons gestop, een keer het ons wild gekyk, en een keer was ons besig om ekstra petrol in te gooi uit ons jerrykanne. Altwee kere het hy gevra of alles ok is en of hy kan help.

Hendrik en sy personeel van Mokolodi Bacpackers

Charlene van Trail Quip

Masego en Mathapa (Babsie) van Kubu Island

Dinge om te doen na die vakansie

Die 74a/h battery in die Echo4x4 treiler is definitief te klein vir regte offroad reis. Ek gaan die kompartement waarin die battery is laat dieper maak en ‘n ekstra groot battery daar laat insit.

Petrolprys: P8.22 Suid Afrika s’n dieslfde tyd is P11.85 per liter

Rand – Pula omskakeling: P1 = R1.25

Botswana sien ons definitief weer.

Ek gaan net voor ons weer gaan Tracks4Africa se Botswana boek   koop. Daar is nog so baie plekke om te verken hier.