Dis nou 26 Desember 2023. Ek het nou 2.5 jaar laas iets op die Vreklekker blog geskryf. Hoekom weet ek nie. So baie en so min het gebeur.

Ons is nog hier.

My ouers is al ‘n rukkie terug oorlede, en by Surika se familie het Kersfees so gewerk:

Een jaar is kersfees by die Westermann familie. Dit is dan gewoonlik of by Tommy en Bettie op die plaas, of by Hennie en Ronel in Thabazimbi, of by my skoonpa en skoonma Piet en Bonnie se huis in Krugersdorp.Tommie, Piet en Hennie is die drie Westermann broers.

Die volgende jaar is dit by my Skoonma se familie. Dan weer die Westermann’s. En so gaan dit aan.

In Des 2019 was ons laaste groot bymekaarkoms by Tommie en Bettie op die plaas. ‘n Reuse sukses, amper 40 mense.Maar dit was die grand finale. Want in 2020 is Tommy dood, en Ouma Maggie van Zyl. So al die jare se perfekte kersfees wisseling by verskillende families was tot niet. Tommy was skynbaar die gom wat die familie bymekaar gehou het, want daarna was elkeen op sy eie. Maar die laaste kersfees was darem een vir die boeke, vir 3 dae het ons gekamp, geswem, gelag en gekuier. Ek kyk nou nog met heimwee terug na daardie plaas kuiertjie. Miskien moet ek bietjie die fotos van daardie kersfees van 2019 ook hier op die blog oplaai.

Van toe af was ons elke Kersfees by Piet en Bonnie, my skoonouers. Nie dat ons omgee nie, hulle is nou net van daardie mense waarvan jy nie genoeg kan kry nie. Dis ALTYD lekker om by hulle te kuier.

Al gaan ons ‘n Desember weg op vakansie maak ons seker ons gaan eers na kersfees weg, of ons gaan voor kersfees op vakansie, kom terug vir kersfees, en gaan daarna weer weg. Want familie moet bymekaar wees vir kersfees. En ons as Afrikaners sal getrou aan daardie tradisie vasklou tot die bitter einde.

Gewoonlik kom almal, (Dis nou Surika en ek sowel as ons kinders Miya en Timothy, en Craig en Mariska (Surika se sussie) met hulle kinders Marc en Owen, en dan natuurlik Oupa Piet en Ouma Bonnie) die 24 ste die middag al bymekaar by Piet en Bonnie se huis.

Bonnie, Surika en Mariska sal die week voor die tyd plannetjies beraam oor hoe werk die etery (lees vretery) wie bring wat en wie doen wat. Geskenke word gekoop en iemand is Vader Kersfees. (gewoonlik Timothy) Die probleem is nou die kinders raak groot, en hulle glo mos nie altyd soos hulle groter word meer in Vader Kersfees nie. Miya glo seker nou al so drie of 4 jaar lank nie meer in Vader kersfees nie. (Miskien langer, ek dink persoonlik sy het ons so ‘n jaar of twee voor dit gespeel) Laasjaar was dit nog net Owen wat gedink het Timothy is regtig Vader Kersfees.

Die jaar het ons besluit Vader Kersfees moet maar net die geskenke by die hek aflaai want hy is skynbaar haastig.

Dan gaan almal binnetoe en geskenke word uitgedeel. Die kinders se opgewondenheid ken natuurlik geen perke nie. So baie nuwe dinge. Miya kry geskenke by ons, Timothy, Oupa en Ouma, en Craig en Mariska. So sy kry ‘n minimum van 4. Die jaar het Miya in skoonheid begin belangstel, sommer oornag. So amper al haar geskenke was nou skoonheids gebaseer. (Ek sien nogal uit na al die behandelings wat Surika en ek hopelik nou gaan kry) Timothy het vir haar ‘n pak met 168 Coki penne gekoop.

 

 

Mariska en Craig koop vir my ‘n fridge magnet wat sê: “Let your light shine” Ek gaan sit dit in Flossie voor op haar asbakkie vas. Ek gaan volgende jaar die gesegde probeer uitleef. Dankie Marsika en Craig.

Ons het vir Timothy ‘n hemp gekoop (wat te klein was) en ‘n pak crackers en blou kaas. Hy voel oor bloukaas soos party politici voel oor korrupsie (kan net nie genoeg kry nie) Hy het sommer altwee blokke kaas die volgende oggend opgeet. Ek het darem drie crackertjies met kaas op gekry.

So na die persente uitdelery het ons (lees Craig) gebraai. Skaaptjops, rashers, wors en Mariska het ‘n heerlike spinasie gereg gemaak, Bonnie het aartappels gemaak. Soos gewoonlik het ons geeet asof dit die laaste dag op aarde is. Voor die tyd het ons ‘n bord of twee se snacks en biltong ook vinnig laat verdwyn.

Craig, Miya, Marc, Owen en ek gaan vang ‘n laataand swem. Lekker toe ons ingaan, en bibber koud toe ons uitklim.

 

Ons het oorgeslaap by Bonnie en Piet en die 25 ste wakker geword met ‘n lekker reëntjie. Die weerburo voorspel heeldag reën.Daar gaan al ons lekker swem planne.

Faf en Lulu is ook saam. Faf was  natuurlik buite homself. Hy is nou amper 7 maande oud en hier is BAIE mense wat BAIE aandag gee en stukkies wors en vleis onder die tafel aangee.

Ons vaar nou soos die gebruik is in die vorige aand se “leftovers” in en vat ‘n vroeë biertjie. Marsika het vir Craig ‘n Cluedo gekoop as geskenk en die oggend word verwyl met die speletjie. Dit vat my sommer baie jare terug. Ek onthou hoe ons as kinders saam my ma en pa in die 1970’s elke aand bord speletjies gespeel het in ons 13 voet Jurgens as ons op vakansie is. Nadat my pa gewen het het ons die tafel opgeslaan, pappa en mamma het hulle dubbel bed opgemaak en Hendrik en ek het op ons blou “stretchers” in die tent gaan slaap.

 

Ek is nie groot op bord games nie so ek kyk maar die paar You Tube videos wat ek afgelaai het. Ek ontwerp ook vir ons ‘n kerfeeskaartjie wat ek vir die “twee of drie mense” wat ons ken wil stuur op whatsapp. Ek kom toe agter ek ken meer as 50 mense vir wie ek dit wil stuur.

 

Piet begin tussendeur ‘n potjie te maak op die Cadac. Koedoe en beestert potjie. Bonnie skil en berei alles voor, en Piet laai dit in die pot. Ek is so ‘n bietjie lugtig vir die potjie want Piet en sy broers se potjies het nie so lekker uitgewerk in die groot 2019 Kesfees toe hulle in beheer was van die potjies nie. Ek moet darem erken dat ‘n paar manne ingemeng het met die potjies en dit het die eind resultaat dalk so ‘n bietjie beduiwel.

Bonnie het seker ook die 2019 potjies in gedagte want sy gee raad en kommentaar as sy voel dit kan van hulp wees. (Sy doen al die voorbereiding so sy kan seker iets te sê hê) Totdat Pa Piet droogweg opmerk terwyl hy aan sy pyp suig: “Craig, lig bietjie daar die deksel sodat jou skoonma daar ook kan kommentaar lewer.”  Ek dog ek verstik aan my Windhoek Draft.

Maar ons was verniet bekommerd, Pa Piet, Ma Bonnie en Craig se gesamentlike potjie poging is ‘n reuse sukses en ons eet ons vingers af. Die 2019 potjie herinnering kan nou begin vervaag.

 

 

 

Ons kuier, gesels, en geniet die gasvryheid van die mense in ons familie.

 

Marc en Miya het selfs in die reën gaan swem. Owen en Faf maak mekaar mal.

Owen is die DJ en speel al oupa se ou tapes. Charles Jacobie en sy tyd se sangers. Lekker man.

Die aand sluit ons met ‘n paar shooters af, en eensklaps is ons 2023 kersfees amper verby.

Elke kuier soos die is so spesiaal, mens weet nooit wie is nog die volgende jaar met jou nie.

Surika se vriendin Natalie se pa is op ou Kersaand oorlede, Tommie het in 2019 sy laaste kersfees saam ons gevier, en ons het dit nie geweet nie. So elke oomblik is so kosbaar en moet geniet word.

Dit was ‘n heerlike ervaring om Kersfees 2023 saam die mense deur te bring. Die kers ervaring was vir my so ‘n bietjie getemper deurdat my oudste seun Bertie nie by ons kon wees vir kersfees nie. Hy is egter al jare lank besig om ‘n stryd te stry (en te verloor) teen sy dwelm probleem. Sy kontak met ons famile word dus bepaal deur waar hy in die siklus van hom is. Ek het egter kersoggend wakker geword met ‘n whatsapp van hom af wat my Geseënde kersfees toewens. Die eerste keer in maande wat ek van hom hoor. En dan wonder mense maar. Waar is hy op die kersdag? Hoe voel hy binne in hom sonder familie op so ‘n spesiale dag? Maar nou ja, mens kan nie altyd stilstaan by ander mense se besluite nie. Gesënde kersfees Boeta, ek hoop jy gaan eendag reg wees en ‘n lekker kersfees saam jou familie deurbring.

Ek bid daarvoor.

Timothy het nou natuurlik ‘n meisie gekry, Hermien, en more klim hy op die bus af Mosselbaai toe om saam haar en haar ouers deur te bring. So, wie weet, volgende kersfees is ou Timothy dalk ook nie by ons nie maar by die ander familie.

Miya kry bietjie ‘n blaaskans op die pad terug huis toe.

 

 

Toe ons by die huis indraai vandag sit ons dadelik die asblik uit want Dinsdag kom haal die mense die asblikke. Daar is ‘n swart familie wat deur die asblikke grou vir kos. Ma, pa en drie klein kindertjies. Hulle gaan sit in die koelte skuins oorkant ons huis op die gras. Die kleintjies staan en bedel by mense wat verby ry.

Kersfees het sy eie betekenis vir elke mens en kind. Sy eie hoogtepunte, en vir party laagtepunte.

Ek is dankbaar vir wat ek het, vir die mense wat ek het en vir Jesus wat soveel jaar terug gebore is vir ons sondes.

Ek bid dat almal SY liefde en vrede sal ervaar.

Johan.