Ons het nou al 4 jaar lank gewens ons kan na die Landcruiser Afrika rekord fees toe gaan. Maar elke jaar het ons ‘n troue op die naweek. Toe die datum van die  2019 fees aangekondig word het ons dadelik besluit die jaar gaan ons niks boek vir die naweek nie en ons gaan soontoe gaan. 

Die fees word jaarliks by Sondela naby Bela Bela gehou. 100de Landcruiser eienaars kom die naweek saam by Sondela. Die idee daaragter is om jaarliks die Afrika rekord te breek van die meeste Landcruisers saamgetrek op een plek en die meeste Landcruisers wat saamry in ‘n konvooi.

Ons het ons plek bespreek, R 840-00 vir die naweek se kampplek.

5-8 September was die tyd. Vrydagmiddag is ons toe op pad Bela Bela toe met Mufasa en Dassie.

Daar aangekom begin ons dadelik tent op te slaan. Ons het skaars klaar opgeslaan toe die oulikste bure langs ons intrek. Johan Botha, sy dogter Charmaine en haar dogter Lea. Johan se vriend Gary, en een van Johan se werknemers, Derrick en sy meisie. Johan het twee van sy Landcrusers saamgebring. Die een vervoer net hout en ‘n groot konka, en die ander is sy Cruiser waarmee hy toer. 


Ons maak sommer gou groot vriende met hulle en kuier die aand saam met hulle. Die konka met vuur maak almal lekker warm, die drankies sorg vir die res. Ons braai en kuier soos ou vriende. Surika en Charmaine gesels oor alles en nog wat en Johan, Gary en ek ruil weermag stories uit.

Naby ons is ‘n paar manne wat ‘n massiewe tent opslaan, Johan reken dit lyk soos Saddam Hussein se tent in die woestyn. Hulle vermaak die hele kamp met hulle musiek, tot na 12 die aand. Of jy nou wil luister of nie, hulle musiek is kliphard. Die volgende oggend toe ek vir Johan vra wat dink hy van die musiek wat tot so laat speel is sy diplomatiese antwoord. “Man, ek sou dit baie meer geniet het as hulle net ‘n song klaar luister” Maar elke minuut speel hulle ‘n nuwe een. Alhoewel hulle smaak van musiek onverbeterlik was en hulle hifi ingebou in die Cruiser die beste is wat ek nog gehoor het, het hulle duidelik ‘n paar mense geirriteer. Want die volgende aand was die musiek stil. Iemand moes met hulle kom gesels het. 

Ons staan eers op toe die son al uit is. Ontbyt is die vorige aand se oorskiet braaivleis en paptert van Boma Vleismark.

Johan lyk nogal moegerig. Hy en sy dogter en kleindogter het in sy Cruise se daktent geslaap. En klein Lea het hulle lewe bietjie moeilk gemaak. Gary is lekker uitgerus. Hy slaap sommer op die grond voor die konka.

Daarna gaan loop ons by die stalletjies rond. Miya ry op die zipline, en Surika koop ‘n paar mini doughnuts. My vrou is nou in die 7 de hemel en lus vir die dag.

burst

Ek koop  heerlike pap en kaings by een van die stalletjies. Ons gesels lank met ‘n man by die Conqueror stalletjie. Ons hou maar nog altyd van die Commander. Wie weet, miskien eendag. 

Voor 12 moet al die Cruisers op die veld getrek wees. Hulle het die vorige dag alreeds al die parkeerplekke uitgele. As dit vol is sal dit die woord Landcruiser vorm. Ons loop tussen die Cruisers deur. Almal is baie vriendelik en vertel jou wat maak hulle voertuie so spesiaal.

Ons stap by een man se Cruiser verby. Hy roep almal wat naby kom nader. Hulle het ‘n [paar rugby pale opgerig. Jy kry dan ‘n grats mampoer, en dan moet jy die bal deur die pale drop. Ek kry dit nogal reg. 


Ons gesels met ‘n man met ‘n baie mooi FJ. Almal is in ‘n vrolike bui. Dan is dit 12:00, die helikopter styg op met die fotograaf in. Het ons laasjaar se rekord van 491 Cruisers gebreek?

Hierna ry ons in ‘n konvooi. 20 km in Sondela se gronde, dis die tweede rekord wat ons probeer breek. Dis mar stowwerig in die konvooi Mufasa lyk ewe skielik rooi ipv Sandstone kleur.

Op ‘n stadium kom die konvooi tot stilstand en beweeg baie stadig. Ons almal wonder wat gaan aan. Na so 20 min van vorentoe kruip kom ons agter wat is die “probleem” Die mense van Sondela het ‘n “Drive through bar” opgesit. Jy ry verby ‘n klomp jongmense met tafels met drand op en koop vir jou ietsie wat jy wil he.

Terug by die kamp gaan Surika, Miya en ek na die spa toe. Ons sit al drie vir ‘n lekker voet massage. R 70-00 elk vir 30 min. Miya geniet dit so sy sukkel om wakker te bly.

Daarna gaan ek vir ‘n rug massering en Surika vir ‘n Eyebrow wax en tint. My rug  se spiere is lekker seer na die tyd, maar my rugpyn van ‘n paar dae is weg. Die rug masserink kos R 435-00 en die eyebrow wax en tint R170-00.

Terug by die kamp is dit weer lekker verder kuier saam Johan en sy mense. So met die kuier kom ons agter hy ken vir Hennie Westremann, Surika se oom, baie goed en het al baie op sy plaas gekuier. Wat ‘n klein wereldtjie is dit net nie.

Johan en Heinrivh van LA sport kom maak ook ‘n draaitjie by ons kamp. Nice van hulle om te kom hello se.

Die aand slaap ons lekker vas. Miya slaap nou al die tweede aand by ons. Ek in die middel en albei my girls langs my. Wat ‘n voorreg. 

Sondag oggend maak ons ‘n lekker breakfast van uie, cheesegrillers en eier en slaan daarna kamp op.

Die kampplek, genoem die “Boskamp” (daar is nie bosse nie) het nie krag nie. Ek kon dus die naweek lekker my solar “setup” wat in die treiler ingebou is uitprobeer. Nadat die yskas die hele naweek geloop het en ons ligte gebruik het wys my Victron BMV-700 battery monitor dat my batterye nog 100% volgelaai is. Johan van LA Sport het dus ‘n goeie “joppie” gedoen. 

So deur die oggend kom die whatsapp deur. Ons het toe darem die Afrika rekord gebreek. 523 Cruisers op een plek. Dit vorl sommer lekker om deel hiervan te gewees het. Volgede jaar is ons terug.

Net na 13:00 is ons terug by die huis. Heerlik uitgerus en reg vir die week.