Sondag was Moedersdag. Surika is ‘n baie oulike moeder, so ons het besluit om ietsie spesiaals vir haar te doen. Sy wil nou al baie lankal na die Vlooimark in Rosebank Mall toe gaan.

Toe sy dus 02:00 Sondag oggend by die huis kom van haar troue by Monate Game Lodge af het ek haar gesê ons vat haar uit die volgende dag. Dit was nie ‘n goeie tyd om haar te vra om vroeg op te staan nie, so ons het haar laat slaap die Sondag. So teen 10:30 is ons toe weg na Hatfield se Gautain stasie. Ons gaan sommer bietjie vir die “fun’ Gautrein ook ry. Timothy het dit nog nooit gedoen nie so dis vir hom ook iets lekkers.

Eers moes ons kaartjies koop. Dit werk ons toe net so oor die R600.00 uit vir die 4 van ons, soontoe en terug. Ek wonder amper of ‘n Uber nie goedkoper sou wees nie. Maar dan, hierdie is vinnig en ‘n baie lekker ondervinding. (Soos Uber taxi bestuurders deesdae aangeval word seker bietjie veiliger ook)

Die sekuriteits beampte by die stasie was baie behulpsaam en vriendelik. Ek was geweldig beindruk met hom. Dis nou totdat hy begin bedel vir geld “because I helped you so nicely” Ai, kan mense nie meer net hulle werk goed doen omdat hulle ‘n salaris daarvoor kry nie?

Die trippie met die trein was baie lekker. Die trein vertrek op tyd en alles gebeur vinnig en georganiseerd. Ek kan sien hoekom is die Gautrein so ‘n groot sukses.

Die stasie is sommer om die draai van die Vlooimark. Ons moes omtrent net so 500m stap.

Ons moes eerstens ietsie gaan eet want almal was al dood van die honger. Ek en Timothy het Breyani ge eet. R50 vir so ‘n lekker groot polystyrene bakkie elk. Miya eet pannekoek en Surika eet ‘n Bonny chow vir R70. Die bunny chow is bietjie aan die duur kant, maar baie lekker, ek het ‘n stukkie geproe.

Toe kom die stap deur al die stalletjies, soos die meeste vlooimarkte maar, baie om te sien maar jy wil nie iets koop nie. Ek wonder hoe goed doen die mense by so ‘n vlooimark regtig?

Ons het wel ons geld by iets spandeer. Daar was ‘n Thai voet massage stalletjie. Jy sit net daar op ‘n lekekr gemaklike stoel, en kry ‘n 15 min voet massering vir R70.00. Dit was baie lekker. Ons hele gesin het sommer gegaan.

Op pad terug na die stasie toe het ons eers by Tashas iets gaan drink. Ek het ‘n koue Cappuchino gekry, en Surika ‘n heerlike glas rooiwyn. (Volgende keer vat ek ook die rooiwyn)

Daar is ‘n gesegde van Nelson Mandela op ‘n plaveisteen. “It always seems impossible until it’s done'” Jip, baie ware woorde.

Ons trippie terug was net so lekker, die Gautrain was stampvol, al was dit Sondag middag. Daar was nou mense van oral. Eintlik ‘n baie lekker ondervinding om so met ander mense te meng en hulle dop te hou.

Langs ons sit drie swart tannies wat op ‘n shopping spree was die dag. Dis duidelik hulle het die dag geniet. Almal lag en gesels die hele tyd. Hulle entoesiasme is aansteeklik. Ons weet nie wat sê hulle nie, maar lag later saam net omdat die een tannie so lekker lag.

Ander mense sit weer met hulle oorfone in en luister musiek, hulle meng nie met ander nie, maak nie eers oogkontak nie. Ek neem aan dis die mense wat dit elke dag doen.

‘n Heerlike uitstappie, lekekr om somemr net uit te kom en iets anders te doen.